Article Image

iNews Ermelo, Adele 21 November

In sy boek “The psychology of superstition”, verduidelik Professor Stuart Vyse dat die bygeloof-ritueel aan ’n sportster die illusie besorg dat hy beheer uitoefen oor kritieke oomblikke in die verloop van die spel. Die Latynse herkoms van die woord bygeloof is nie verniet “superstare” nie… dit beteken iets van buite “staan oor” jou. Volgens Wikipedia is “Triskaidekafobie”, oftewel vrees vir die getal 13, ’n werklike toestand wêreldwyd – daar is baie geboue sonder ’n dertiende vloer, restaurante sonder ’n tafel 13 en hospitale sonder ’n teater 13. Hordes rillerflieks en een televisiereeks is al oor dié tema verfilm, die Emirates vlugredery gebruik nie ’n ry 13 nie, die Franse reik nie ’n nommer 13 vir enige huisadres uit nie en in Italië word nommer 13 uit die nasionale Lotto gelaat. Gepraat van die Lotto – een Sondagmiddag twee jaar gelede op ’n Safair-vlug van Kaapstad beland ek langs ’n spitsvondige, geselserige Maleier. Terwyl ek Wilhem Jordaan se artikel in “Die Burger” oor bygelowe raaklees, merk hy droogweg hier langs my op: “’n Voël het in een dag op my sandwich én op my broek getjorts, hoekom het ék nog nie die lotto gewen nie…? ☺☺☺ Ons lag, maar as Tukkie-studente, was ons self optimisites-opgewonde wanneer ’n Jakaranda-bloeisel net voor eindeksamen op ons koppe val. Daar IS mense wat régtig glo ’n uil op jou dak voorspel onheil en mense wat selfs hul vakansies sorgvuldig beplan rondom Vrydag die 13de – hulle sê hulle vat nie kanse nie, net vir die wis en die onwis… In sy boek “Bygelowe en waar hulle vandaan kom” beskryf dr. Anton Prinsloo meer as 6000 kostelike bygelowe wat wêreldwyd bestaan – As jy ’n kledingstuk verkeerdom aantrek, gaan jy ’n present kry. As jou vadoek val gaan jy kuiermense kry. Steek ’n vuurhoutjie aan en laat dit so na moontlik aan jou vingers brand. Spoeg op die verbrande deel en hou dit dan aan die kopdeel vas. As dit nie breek nie, is jou man baie lief vir jou☺. Ensovoorts, ensovoorts… “Weet jy hoe’t ek dit reggekry om so baie viserale vet (dis nou daardie steekse spulletjie vet om die organe) in 8 weke te verloor?!”, fluister ’n ander Challenge-lid ingenome tydens haar laaste liggamsassesseringstoets. “Koeksoda en suurlemoen opgelos in water, elke oggend op ’n leë maag”. “Werklik?!”, swymel ek meegevoer. Mens is nooit te oud om te leer nie. Wat ek wél weet is dat wortels goed is vir ons oë en pampoen gee krulhare en beet gee rooi wange, en in “Ouma se Rate- en Resepboekie” het ek jare gelede op dié tong-in-die-kies raad vir hoes afgekom: “Kook ’n hoendereier. Eet die helfte en spoeg op die ander helfte en begrawe dit in ’n miershoop. Moenie weer omkyk nie.”☺ Ek kan nie help om te wonder nie – wat dan? Sal jy in ’n hoesende soutpilaar verander…? In ons gesin was daar nie tyd vir bygelowe nie – “touch wood”. My pa het wel sy rooiwyn geskommel en die glas teen die lig gehou voor hy gedrink het, maar dit het niks met bygeloof uit te waai nie. Die swart kat wat voor jou inloop was vir my ook ’n simpel reël. Ons het dan ’n swart kat gehad en sy’t heeltyd voor, onder, langs en meestal bo-oor ons geloop… en hier sit ek nog vandag. Wie het besluit dit beteken ongelukkigheid om onderdeur ’n leer te loop? Wie het besluit as jy jou sout oor jou linkerskouer gooi, is dit binne-in ou Niek se oog? En wie het besluit as jy nie ’n kettingbrief binne 2 sekondes vir 10 mense aanstuur gaan jou rekenaar ontplof of jou toonnaels ingroei? Régtig? Iewers net anderkant my doekjare het my pa ons wel die romantiek van ’n wensbeentjie geleer, maar ons wense was kinderlik onskuldig en voorspelbaar – en wanneer jy die gelukkige een was met die taai afgebreekte beentjie in jou hand met ’n stilletjies-wens vir ’n lang lewe vol geluk, het Pa altyd geknipoog en gesê: “Onthou net, dié wens het nie vir die hoender gewerk nie…☺” …Bygelowe sal waarskynlik ’n deel van die lewe bly so lank as wat mense onseker oor die toekoms is. Beteken ’n springende linkeroog dat goeie geluk om die draai is? Ek weet nie. Dalk. ’n Kuberdokter op health24.com meen die oogspier is dalk net so ’n bietjie ooreis. Help koeksoda en suurlemoen om vet te verbrand? Ek weet nie. Dalk. Ek weet VNHM werk nog beter – Vreet net die helfte minder. "Not many people have had as much bad luck as I have, but not many people have had as much good luck, either.”, sê die suksesvolle komediant Tig Notaro graag. Vier van ons 94 Challenge lede gaan vanaand elk wegstap met hul deel van die gelukkige kontanttrekking van R9400. Geluk? Definitief. Maar om daar te kom moes hul 32 sessies doen. Om die lotto te wen hoef ’n voël nie op jou kop te blerts nie, maar jy moet ongelukkig eers ’n kaartjie koop. Om ’n Fitness challenge te voltooi moet jy eers by die gym aansluit. Dan moet jy die ure insit. Om sukses te behaal, waar ook al, verg harde harde werk. Punt. Ek onthou my ouma het geglo jy drink Disprins as jy sonbrand het en jy drink Disprins as jy hartseer is. Sy’t geglo jy gooi jou spieëls en krane met komberse toe as die weer swaar is, maar sy’t gelukkig nooit gesê ek gaan nie ’n man kry wanneer ek my op die tafel tuismaak terwyl sy Kersfeeskoekies bak nie. Sy’t wel gesê ons moenie op die koue stoep sit nie – ons gaan aambeie kry. En die beste boereraat? Dit bly ook my ouma s’n: “Bid, werk, glo, slaap en ’n lekker koppie tee.” Meer kan jy nie gee nie. En meer is nie nodig nie. Mirna 082 779 0507 www.mirnasaerobicstudio.com

To read the rest of the article, please open it with the iNews app. You can download the app here:

Privacy Policy | PAIA Manual

Copyright @ 2020 GenLeads