![Article Image](/Content/Uploads/Article/11816/Screenshot_20220513_113959.jpg)
MEESTERPLAN
Piet Retief, Ammie Walters
13 May
Sy wil skree. "Nee! Dis nie hoe my meesterplan moes uitdraai nie!" Sy het dit maande lank beplan. Alles oor en oor in haar kop laat afspeel. Moet sy die ambulans bel? Hoe gaan sy aan hulle verduidelik dat Miemie en Dawid giftige sampioene geëet het? Wat as die polisie haar in die tronk stop? Hoe sal die kinders sonder haar regkom alleen by hulle gewelddadige pa?
Sy stap na die mikrogolfoond. Druk Stefaans se bord kos in die oondjie. Kyk toe terwyl dit in die rondte draai. Om en om. Soos haar gedagtes.
Die "pieng" van die mikrogolf bring haar terug na die werklikheid. Sy haal die kos uit die oondjie. Twyfel 'n oomblik. Begin dan om TV-kamer toe te loop. Gaan staan. Draai om. Gaan sit met bewende hande by die kinders. Alles is vreemd dof. Sy kan amper niks deur die trane sien nie.
"Ma?"
Haar kinders kyk verbaas na haar. Sy het nog nooit voor hulle gehuil nie. Vies vee sy die trane weg.
"Is Ma okay?" Sy probeer glimlag. Trek die warm bord kos nader. Sny ’n stuk steak af en druk die vurk in die sampioensous. Haal diep asem en neem die eerste hap. Dit smaak lekker. Vrek lekker. Sy eet alles op en glimlag vir haar kinders. Steek haar hande uit na hulle. "Ek is okay. Alles gaan okay wees. Kom gee vir Ma 'n druk."