Article Image

iNews Ermelo, Conrad 09 November

Die NG Moedergemeente in Ermelo is vanjaar 150 jaar oud. Op 5 November 1870 het ds. Frans Lion Cachet dié gemeente gestig. Frans Lion Cachet is op 28 Januarie 1835 in Amsterdam in Nederland gebore. Hy het van Nederland na Kaapstad verhuis waar hy as sendeling gewerk het. Die eerste intrekkers op die Hoëveld het hoofsaaklik vanuit die Lydenburg-distrik gekom, maar nadat die NG gemeente Nazareth (Middelburg) in 1867 van Lydenburg afgestig het, het die Vaalrivier-wyk onder Nazareth geval. Vanweë die uitgestrektheid van die gebied het die inwoners van die Vaalrivier-wyk na hul eie gemeente verlang. Op 5 November 1870 het ds. Frans Lion Cachet die gemeente Ermelo gestig. Die jong gemeente van Ermelo het egter meer as tien jaar gewag voor hul hul eie kerkgebou gekry het. Die eerste kerk het ‘n sinkdak en misvloer gehad. Daar was plek vir ongeveer 300 mense tydens eredienste op Sondae. Daar is nie sekerheid oor die eerste kerk se ligging nie, maar na bewering is dit opgerig waar Doves se perseel vandag is. Ermelo se eerste leraar, ds. Pieter Willem Ennis, is in November 1886 bevestig en hy het die gemeente tot 1905 bedien. Kort nadat hy leraar van Ermelo geword het, is begin met die oprigting van 'n nuwe en groter kerkgebou. Vanweë verskeie probleme en vertragings kon die kerk eers in die begin van 1893 ingewy word. Die fondament was van ysterklip en die mure van sandsteen. Toe Ermelo tydens die Tweede Vryheidsoorlog afgebrand is, is hierdie kerkgebou nie afgebrand nie. Die Engelse soldate het egter al die houtwerk soos die vloer, banke, preekstoel, orrel en deure verwyder. Ná die oorlog moes alles weer van voor af opgebou word.

To read the rest of the article, please open it with the iNews app. You can download the app here:

Privacy Policy | PAIA Manual

Copyright @ 2020 GenLeads