
PAASFEES BOODSKAP
Standerton, Jannie Degenaar
02 April
“Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie.” - 1 Korintiërs 7:23.
Pasop dat die langnaweek 'blues' jou nie beroof van die heerlike boodskap van Paasfees nie!
Knoop vier knope in jou onthou-tou, skryf dit op jou hande, plak dit teen jou voorkop en verf dit op jou deurkosyne:
=> Jy is eiendom van God.
=> Jy word vrygespreek van sondeskuld.
=> Jy het die krag van ‘n nuwe lewe.
=> Jy sal op die dag van Christus liggaamlik opstaan uit die graf.
Jy is eiendom van God
Julle is vrygekoop en die prys is betaal! (1 Kor 7:23). Sedert die sondeval het die Satan ‘n houvas op die mensdom gekry (Genesis 3). Jesus het deur sy dood en opstanding die eienaarskap verander. Vir jou lewe is ‘n duur prys betaal. Jy is eiendom van God om Hom met blydskap te kan dien. Jy is nou erfgenaam met Christus Jesus.
Jy word vrygespreek van sondeskuld
Die wrede lyding van die kruisdood, die kreet van Jesus “Eli, Eli, lema sabagtani” (my God, my God waarom het U my verlaat), laat my opnuut besef waarvoor Jesus mens geword het. Nie in die eerste plek sodat ek liggaamlik gesond kan wees nie, of dat ek net ‘n gelukkige lewe op aarde sou hê nie! Veel meer! Sy kruisdood is die volle betaling vir my sondeskuld. Ons wat skuldig sou wees voor die ewige Regter en tot die ewige verderf veroordeel sou word, word ter wille van Christus vrygespreek – vir altyd!
Jy het die krag van ‘n nuwe lewe
Dieselfde krag van die Heilige Gees, waardeur Jesus die dood oorwin en uit die graf opgestaan het, word ook aan God se kinders geskenk. ‘n Nuwe geboorte vind plaas in geestelik dooie mense. God se genade is geweldig. Hy gee ons nou reeds geestelike krag om ‘n lewe tot eer van God te kan lewe, vry van die oorheersing van my ou sondige natuur. Wat ‘n heerlike voorreg!
Jy sal op die dag van Christus liggaamlik opstaan uit die graf Net soos Jesus se graf leeg was op Paassondag, so sal elkeen wat as kind van God gesterf het se graf leeg wees met die wederkoms van Jesus Christus (1 Kor 15:20-23). Sy opstanding uit die dood verseker ons van ‘n heerlike opstanding en ‘n ewige woonplek op die nuwe aarde!
Boodskap geskryf deur Dr. Callie Opperman
To read the rest of the article, please open it with the iNews app. You can download the app here: